|
The Town of the Year Competition was run by Kaap Rapport, an Afrikaans-medium Sunday newspaper which is published in South Africa, together with other sponsors Swartland Winery and Cape Town Routes Unlimited. This letter is from the Kaap Rapport and thus is written in the Afrikaans, the language of their readership.
Read the original report on the visit here .
6 November 2007
Geagte vriende by Langebaan Toerismevereniging, die Saldanhabaai-munisipaliteit, sakelui en dorpenaars
Dorp van die Jaar 2007
Namens Kaap-Rapport, Swartland Wynkelder en Cape Town Routes Unlimited ’n baie, baie hartlike dankie vir jul gasvryheid tydens die Dorp van die Jaar 2007-beoordeling in Oktober. Dit was vir ons as beoordelaarspan ’n groot voorreg om julle en jul pragdorp beter te leer ken.
Die onkoste wat aangegaan is en die geweldige organisasie wat julle gedoen het om jul dorp te bemark, gaan nie ongesiens verby nie. Ons sal dit waardeer as julle namens ons elkeen van die sakelui wat iets tot die poging bygedra het, kan bedank, ook vir hul tyd en moeite. Ons het soos koninklikes gevoel!
Die beoordelaarspan het elkeen unieke hoogtepunte van die besoek uitgesonder, wat ons ook aan Kaap-Rapport se lesers probeer deurgee het in die artikel op 7 Oktober. Dit sluit in die lagune en die blommeprag van die omgewing, die puik kuier-restaurants soos die Boesmanland Plaaskombuis en Die Strandloper en natuurlik Club Mykonos. Neem in ag dat dié artikel Kaap-Rapport se nagenoeg 759 000 lesers bereik het – ’n groot advertensie vir die dorp, wat ons hoop jul toerismebedryf op lang duur ondersteun.
Ons was ook beïndruk deur die feit dat julle Pattra Mei van Radio Weskus betrek het. Die besoek aan Pattra se grootouers en aan mnr. Eddie Papier was aangrypend.
Ons besef dat daar op Langebaan teleurstelling is dat julle nie die Dorp van die Jaar is nie. Wees verseker dat die kompetisie vanjaar besonder straf was en dat elkeen van die dorpe in die wedloop werklik die titel waardig was.
Die vrae wat aan ons gestel word deur sowel Gansbaai as Langebaan, is nou: Wat moes ons méér gedoen het? en Waar skiet ons tekort?
Namens die beoordelaars wil ek die versekering gee dat Langebaan ’n onverbeterlike voorlegging van die dorp gedoen het en dat die puik funksionering van die toerismekomitee uitgestaan het. Dit is dus nie ’n geval van waar julle tekort skiet nie, maar dat Mosselbaai op grond van ons beoordelingskriteria met ’n paar punte gewen het. Dít, gekombineer met hul SMS-stemme, wat in die tweede ronde meer was, het aan dié Suid-Kaapse dorp die titel besorg.
Ons het wel gevoel dat Langebaan ’n ongelooflik interessante geskiedenis het wat nog nie ontgin word nie. Ons sou graag ’n museum wou sien waar die ontstaan en ontwikkeling van die dorp, insluitend stories deur lewende legendes soos Eddie Papier, gedenk word.
Ons vertrou dat die goeie betrekkinge wat ons deur middel van die Dorp van die Jaar-kompetisie opgebou het, sal uitkring. Ons hoop om elkeen van ons finalisdorpe “toegevoegde waarde” te gee deur middel van bemarking en publisiteit in Kaap-Rapport.
Vriendelike groete
Hanlie Stadler
Inhoudsredakteur: Kaap-Rapport
|